In die saak van Prince v Minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling en Andere; Rubin v Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings en Andere; Acton en Andere v Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings en Andere (4153/2012) [2017] ZAWCHC 30 (gerapporteer in Butterworths se All South African Law Reports as [2017] 2 All SA 864 (WCC); en in die South African Law Reports van Juta as 2017 (4) SA 299 [WCC] ); het die Wes-Kaapse Hooggeregshof gelas dat die Parlement dele van die Wet op Dwelmhandel, en die Wet op Medisynebeheer moet verander.
Diè opspraakwekkende uitspraak volg nadat een van die Applikante, ene Mnr G A Prince; vroeër jare in Prince v President van die Prokureursorde van die Kaap van Goeie Hoop 2002 (2) SA 794; ook gerapporteer as 2002 (3) BCLR 231 (die “Prince” saak); daarvoor gesorg het dat sy saak en die regsimplikasies daarvan berug sou word onder eerstejaar regstudente wat nodeloos om te sê gehammer sou word met die professionele sedelesse daarvan betreffende hul ontluikende regsberoepe.
In diè saak het die Hof beslis dat Prince nie as prokureur toegelaat mag word nie as gevolg van sy status as belydende gebruiker van marijuana, ook bekend in die volksmond, omgangstaal of volkstaal as dagga of “boom”.
In die nuutste weergawe van die saak (met die applikante wat skynbaar oppad is na die Grondwetlike Hof) wat beslis was vroeg in 2017, het die Wes-Kaapse Hooggeregshof beslis dat dit ‘n onverdedigbare inperking plaas op die gebruiker van dagga se regte; deur die gebruik daarvan deur volwassenes in private wonings te verbied. Dus word die besit, gebruik en verbouing van dagga vir privaat gebruik skynbaar nou ingevolge diè uitspraak toegelaat. Dit is interessant om te dink aan die pletora van regsaksies wat derhalwe sou volg uit die vervolging van iemand wat dagga vir bogenoemde gebruik sou kweek en nuttig? Hoe is die bordjies nie verhang nie, ongeveer ‘n dekade of twee na die eerste Prince saak?
In die interim sal die uitspraak egter nog baie regsonsekerheid meebring, aangesien die Parlement 24 (vier-en-twintig) maande gegee is om die aanvegbare wetgewing te remedieër, (welke situasie meegebring is deur die Hof se beslissing dat dele van die Wet op Dwelmhandel, asook die Wet op Medisynebeheer, verander moet word, om diè uitspraak se bevindinge te weerspieël). Die houding van die Kantoor van die Direkteur van Openbare Vervolgings, by monde van die uitdagende woorde van Moipone Noko, is egter dat die besit van dagga steeds gekriminaliseer is, en dat dit so sal bly totdat andersins besluit word. Sover vasgestel kan word het die parlement ook nog nie aanstaltes gemaak om die betrokke wetgewing te wysig nie.
Dit is egter onbetwisbaar dat die wêreldwye mening en konsensus neig om in al hoe groter wordende mate oor te hel na die dekriminalisering en die wettiging van die kweek van dagga en die besit en gebruik daarvan vir medisinale doeleindes en/of die behandeling van kwale en die versagting van lyding in die geval van terminale siektes. Die opportunistiese sakemanne en boere onder die bevolking beskou diè verwikkelinge sekerlik as die spreekwoordelike gans wat die goue eiers kan lê. Andersins beskou ‘n deel van die bevolking diè verwikkelinge sekerlik ook as ‘n teken van die onafwendbare morele verval van die samelewing. Dagga en die vraag oor die dekriminalisering en/of die wettiging daarvan; bly maar ‘n omstrede kwessie.
Dagga sluit 3 (drie) spesies in: Cannabis sativa, Cannabis indica en Cannabis ruderalis. Hierdie 3 (drie) daggaspesies is inheems aan Sentraal-Asië en Suid-Asië. Cannabis sativahelp volgens oorlewering en ondervinding vir onder andere depressie, angs, outisme, epilepsie, Alzheimer’s en breinskade. Cannabis indica help weer vir kwale soos kanker, fibromialgie, naarheid, artritis, diabetes, MIV/vigs en chroniese pyn.
In die nuutste verwikkelinge, beoog die nuwe “Wetsontwerp op Mediese Innovering” om dagga vir medisinale doeleindes, soos aanbeveel is deur die Hof, te wettig. Die wetsontwerp is egter nog nie deurgevoer nie.
In navolging van diè interessante verwikkelinge het die Medisynebeheerraad (MBR) ‘n komitee gestig wat ook met die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye sal beraadslag oor geskikte gebiede en veiligheidsmaatreëls wat die kweek van beperkte hoeveelhede dagga vir medisinale gebruik sal reguleer, asook die verwerking daarvan tot ‘n aanvaarbare farmaseutiese doseringsvorm wat dokters kan voorskryf aan pasiënte wat byvoorbeeld ernstige chroniese pyn ervaar. Sal Suid-Afrikaners moontlik in die nabye toekoms volledige dekriminalisering sien?
Internetbronne: 1. https://reviewonline.co.za/215825/is-dagga-n-oplossing/
2. https://af.wikipedia.org/wiki/Dagga
Regsbronne:
1. Prince v Minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling en Andere; Rubin v Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings en Andere; Acton en Andere v Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings en Andere (4153/2012) [2017] ZAWCHC 30; [2017] 2 All SA 864 (WCC); 2017 (4) SA299 (WCC)
2. Prince v President van die Prokureursorde van die Kaap van Goeie Hoop 2002 (2) SA 794; 2002 (3) BCLR 231
Geskryf deur : J.C. Venter (LL.B UP)