In die saak van Jordaan and Others v City of Tshwane Metropolitan Municipality and Others [2017] ZACC 31 wat aangehoor was in die Grondwetlike Hof (die “GH”) op 23 Mei 2017, het die GH verklaar dat ‘n nuwe koper van eiendom nie verantwoordelik is vir vorige uitstaande skulde met betrekking tot die eiendom onder Artikel 118(3) van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels, Wet 32 van 2000, (“die Wet”) nie, soos byvoorbeeld munisipale dienstefooie, eiendomsheffings en ander munisipale heffings en belastings.
Die GH het egter nie so ver gegaan as om Artikel 118(3) ongrondwetlik te verklaar nie. Dit kan toegeskryf word in skrywer se opinie aan die verskynsel dat uitstaande skulde in die praktyk nie die handelsverkeer of eiendomstransaksies (altyd) kniehalter nie, aangesien so ‘n situasie onhoudbaar sou wees, en tot allerhande absurditeite sou lei. Die GH is ook uit die aard van die saak nie gemagtig daartoe om skuld vry te skeld nie; want jùis dit sou die praktiese gevolg van ‘n ongrondwetlik verklaring van Artikel 118(3) gewees het, en sou dit verder inbraak gemaak het op die beginsel van kontrakteervryheid.
Verder sou sò ‘n bevinding ook munisipaliteite op onregmatige wyse vrygeskeld het van hulle verpligtinge ig. die Grondwet, 1996, om skuld in te vorder, en sou dit onverantwoordbaarheid aangespoor het. Die munisipaliteite sou dan bloot hul “koppe” kon skud, en die verweer opper dat aangesien hulle nie die skuld(e) kan invorder van die nuwe eienaar nie, (aangesien hulle dit nou meer sommer mooitjies en gerieflikheidshalwe sommer net kan verhaal van die ‘onskuldige’ nuwe eienaar nie) en ook nie die vorige eienaar nie, hulle hande afgekap is. Nou word munisipaliteite gedwing om aksie te neem en hul uitstaande skuld (e) in te vorder.
Die grief het ontstaan nadat eienaars beweer het dat sekere munisipaliteite die bepalings van die gewraakte Artikel 118(3) teen hulle “gebruik” het, deur te weier om munisipale dienste te voorsien en/of te weier om klaringsertifikate uit te teik alvorens “historiese skuld” gedelg is. Gelukkig vir voornemende eienaars in Suid-Afrika, is die praktyk nou iets van die verlede, of behoort dit ten minste te wees, by ontstentenis waarvan die nodige remediërende regstappe geneem kan word om ‘n munisipaliteit te verplig om ‘n klaringsertifikaat(e) uit te reik en/of munisipale dienste te voorsien. Die GH het onomwonde verklaar dat by die transport van ‘n eiendom, die nuwe eienaar nie verantwoordelik is vir die vorige opeisbare skuld nie, en dus is nuwe eienaars nie verantwoordelik daarvoor om ou munisipale skuld te vereffen nie.
Waar nuwe eienaars van eiendomme opgesaal was met skuld wat nie aan hulle toegereken kon word nie, en munisipaliteite betaling daarvan van die nuwe eienaar kon eis, kan hulle nou nie meer so doen nie.
Die relevante artikel lees as volg:
“Restraint on transfer of property
118. (1) A registrar of deeds or other registration officer of immovable property may not register the transfer of property except on production to that registration officer of a prescribed certificate—
(a) issued by the municipality in which that property is situated; and
(b) which certifies that all amounts due in connection with that property for municipal service fees, surcharges on fees, property rates and other municipal taxes, levies and duties during the two years preceding the date of application for the certificate have been fully paid…
(3) An amount due for municipal service fees, surcharges on fees, property rates and other municipal taxes, levies and duties is a charge upon the property in connection with which the amount is owing and enjoys preference over any mortgage bond registered against the property.”
Die aanvegbare artikel vermeld uitdruklik in subartikel (3) daarvan dat ‘n bedrag wat uitstaande is vir munisipale dienste ens. ‘n heffing is op daardie eiendom, welke voorkeur geniet oor enige verband wat geregistreer is teen die eiendom. Soos hierbo genoem, word die situasie onveranderd gelaat, met die verskil dat die nuwe eienaar nie aangespreek kan word oor die uitstaande opeisbare skuld nie. Een van die vernaamste beweegredes vir die GH se besluit was dat indien die heffing in Artikel 118(3) transport oorleef het, daar ‘n wesenlike ontneming van eiendom kan wees. Die GH het ook gesê dat Artikel 118(3) so geïnterpreteer moet word dat die uitstaande skuld (e) nie oordrag na ‘n nuwe eienaar oorleef nie; maar dat die vorige eienaar, as eienaar, verantwoordelik vir die aangegaande skulde is met betrekking tot die eiendom, en dat diè heffing; oftewel meganisme in skrywer se mening; dien om die skuld waarvoor die vorige eienaar verantwoordelik voor is; af te dwing, en so sorg dat skulde wel ingevorder word.
Bron: Jordaan en Andere v City of Tshwane Metropolitan Municipality en Andere [2017] ZACC 31
Deur: JC Venter LL.B