Bogenoemde voorgestelde wysigings volg kort op die hakke van die Nasionale Norme en Standaarde wat ook redelik onlangs gepubliseer is deur die Departement van Handel en Nywerheid onder leiding van Mnr Rob Davies, die Minister van Handel en Nywerheid.
Nodeloos om te sê het die publisering hiervan dadelik rolspelers in die bedryf, en verskeie sakekamers in Suid-Afrika, kennis laat neem daarvan. Daar is inderdaad gewigtige en inderdaad grondwetlike tekortkominge wat geopenbaar word deur die Nasionale Drank Beleid waarvan die belangrikste as volg is:
i) Daar is verwys ter inleiding hiervan na die Nasionale Norme en Standaarde wat onlangs gepubliseer is. Die fundamentele fout met die voorgestelde drankbeleid wat, anders as die Nasionale Norme en Standaarde, uiteindelik tot die wysiging van die Drankwet 59 van 2003 kan lei, is dat dit nie behoorlik in ag neem die grondwetlike raamwerk waarin die Suid-Afrikaanse reg gegiet is nie. Toe die Norme en Standaarde vroeër gepubliseer was; het van die provinsies reeds hul bedenkinge uitgespreek met betrekking tot die afdwingbaarheid daarvan, wat nog te sê van die nuwe drankbeleid. Die rede hiervoor is dat dranklisensies ‘n uitsluitlike bevoegdheid van die provinsies is ingevolge Deel A van Skedule 5 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996. Dit laat die vraag ontstaan hoe die Departement van Handel en Nywerheid verwag dat die provinsies die Nasionale Drank Beleid moet navolg en implementeer indien hul nie verplig is daartoe nie, wat op sy beurt die doel en lewensvatbaarheid van die Nasionale Drank Beleid in twyfel trek.
ii) Indien die voorgestelde wysigings ooit wet word, sal die enigste gevolg in die respekvolle opinie van skrywer hiervan slegs wees dat legitieme besighede toegegooi word met “red tape” terwyl die onwettige drankbedryf wat verantwoordelik is vir die probleme wat die Departement van Handel en Nywerheid juis wil aanvat, floreer; en sal die “besighede” inderdaad bevoordeel word deur die voorgestelde wysigings.
iii) Die voorstel dat bestaande besighede wat binne 500m geleë is vanaf plekke van onderrig, aanbidding en residensiële gebiede, binne 2 jaar moet verskuif blyk op die oog af ongrondwetlik te wees, aangesien, behalwe vir ander faktore welke ongelukkig nie hier aangespreek kan word nie, bestaande regte nie bloot weggeneem kan word nie. Sake oorwegings soos die feit dat diè besighede reeds gevestig is en dus oor ‘n gevestigde reputasie en “goodwill” beskik, en die feit dat sakesentra dikwels gerieflikheidshalwe tussenin of naby residensiële gebiede geleë is, dra by daartoe dat hierdie voorstel net so goed is asof die bestaan van die betrokke besighede, en die eienaars daarvan se grondwetlike reg op die beoefening van ‘n professie en bedryf van hul keuse, op arbitrêre en terugwerkende wyse mee weggedoen word, welke in skrywer se respekvolle opinie ongrondwetlik en hoogs onreëlmatig is.
iv) Die idee dat die ouderdom waarop persone wettiglik kan drank aankoop verander word vanaf 18 jaar na 21 jaar, is bloot absurd indien in ag geneem word dat jy byvoorbeeld reeds al as 16 jarige in die huwelik mag tree [alhoewel slegs met toestemming van jou ouer(s)] maar op paradoksale wyse nie sal kan drank aankoop indien jy reeds al 18 jaar oud is nie. Dit maak ook logieserwys die deur oop vir kriminele sindikate om voordeel te trek daaruit en op onwettige wyse drank te verkoop aan die persone terwyl die reeds uitgerekte kapasiteit van die Suid-Afrikaanse Polisie Diens om hul plig te verrig net nog ‘n vuishou toegedien sal word.
v) Die voorstel dat registrante (dit wil sê geregistreerde persone soos groothandelaars en kleinhandelaars) verantwoordelik gehou kan word vir die aksies van hul klante maak die deur oop vir allerhande ongewenste gevolge. Dit sal verseker groot probleme veroorsaak in verband met die beginsel van kousaliteit en ‘n “berg” van duur en ongewenste litigasie tot gevolg hê. Die oplossing is bloot dat die bestaande Wette in die Republiek toegepas word soos wat dit moet.
Ter opsomming; pleks daarvan dat die Departement van Handel en Nywerheid bestaande probleme probeer aanspreek met nòg wetgewing, moet hul toepassingsvermoë van die bestaande en, voldoende, wetgewing, werkverrigting en effektiwiteit verbeter. Die voorstel dat beamptes van die SAPD kan dien as inspekteurs van die Departement van Handel en Nywerheid is egter lofwaardig en sal ‘n ver pad gaan om van die probleme wat wel ondervind word, op te los. Die voorstel ten opsigte van die standardisering van die drankbedryf in Suid-Afrika en die daarstelling van bv. eenvormige handelsure in die Republiek sal wetstoepassers beslis bystaan om hul plig makliker uit te voer, en word as sulks aanbeveel deur skrywer hiervan.
Die geleentheid om kommentaar te bied op die Nasionale Drank Beleid is onlangs uitgestel na 13 Augustus 2015. Daar sal dan weer opgevolg word met betrekking tot die nuutste verwikkelinge, en verdere gesprekspunte sal opgeneem word.
Deur: JC VENTER (LL.B)
Bron: “National Liquor Policy”(gepubliseer op 20 Mei 2015)