Woolies moet klant betaal
Mike van Rooyen
Donderdag 12 Desember 2013
DIE winkelgroep Woolworths moet betaal nadat ’n sakevrou van Bloemfontein oor ’n plastiek- verpakkingstrollie in dié groep se winkel in Prellerplein geval het, het die Vrystaatse hooggeregshof gelas.
Die groep moet ook Jeanette Scholtz (57), die eienares van ’n kwekery, se regskoste tot dusver betaal, het waarnemende regter Celesté Reinders gister beveel.
Scholtz, van Woodland Hills, het R245 956 van Woolworths geëis nadat sy op 30 September 2011 omstreeks 12:00 geval het terwyl sy op soek was na strooitjies vir die twee vrugtesappe wat sy gekoop het.
Scholtz het vir ’n werknemer, wat besig was om brood uit te pak, gevra waar die strooitjies is.
Hy het gesê naby die uitgang van die winkel. Sy het omgedraai en twee treë verder oor die trollie geval.
Sy het aan haar regterkant haar skouer, elmboog, pols, wang en voet beseer.
Albei haar knieë is beseer.
Sy het reeds hospitaalkoste van R21 856 betaal en meen dat haar toekomstige mediese koste R74 000 sal wees.
Wanneer Scholtz se eis weer aangehoor sal word, sal bereg word presies hoeveel Woolworths haar moet betaal.
Michael Reade, ’n werknemer wat besig was om Kersvoorraad uit te pak, het getuig ’n ander werknemer wat blomme uitgepak het, het die trollie net so gelos en na die agterkant van die winkel gegaan.
Hy het gesien hoe Scholtz na die blomme kyk toe sy oor die onbewaakte trollie val.
Werknemers van Woolworths word gereeld daarop gewys dat hulle om veiligheidsredes nie die verpakkingstrollies of die leë kratte daarop onbewaak op die winkelvloer mag los nie.
Regter Reinders het in haar uitspraak gesê gegewe hoe laag die trollie, is, is dié reëling voor die hand liggend.
Woolworths weet klante kom die winkel binne met hul oë op die rakke gerig om na die produkte te kyk.
Woolworths weet sy klante loop nie met hul oë op die winkelvloer gerig nie en hulle verwag nie enige hindernis op die vloer nie.
Adv. Neil Snellenburg het in opdrag Henry Buchner van Honey-prokureurs van Scholtz opgetree. Adv. Henri Benade het in opdrag van Mellows & De Swardt-prokureurs vir Woolworths opgetree.