Ace, LUR moet vrou R450 000 betaal
Departement moet opdok vir slaggat
Mike van Rooyen
Sondag 02 Februarie 2014
DIE Vrystaatse premier en sy LUR vir paaie en vervoer moet R450 000 aan ’n kranige ovaalbaan-renjaer opdok nadat sy met ’n bakkie deur ’n slaggat naby Boshof op die pad van Dealesville af gery het en die bakkie omgeslaan het.
Carla Dreyer (31) van Langenhovenpark, Bloemfontein, was op pad om op Boshof aan ’n ovaalbaanbyeenkoms deel te neem toe sy met die bakkie die gat getref het. Agter die bakkie was ’n sleepwa met ’n ovaalbaanmotor op.
Sy het ’n sny aan haar kop, beserings aan haar nek en rug en veelvuldige kneusings opgedoen. Sy ondervind steeds pyn aan die agterkant van haar nek, lui ’n verslag van ’n deskundige.
Regter Soma Naidoo het in die Vrystaatse hooggeregshof by ooreenkoms tussen die partye gelas die premier en LUR moet ook haar regskoste en die koste van ’n deskundige betaal.
Luidens haar eis was die departement van paaie en vervoer nalatig en het die departement versuim om die pad behoorlik in stand te hou.
Die gat was enkeldiep en sowat ’n meter in deursnee. Sy kon ook nie na regs uitswaai nie, want daar was ook ’n gat in dié baan.
Luidens hofstukke het sy die oggend van 16 Julie 2011 sowat 90 km/h gery toe die bakkie en sleepwa die slaggat getref en die pad verlaat het. Geen padtekens het teen dié slaggate gewaarsku nie. Sy het die bakkie op die pad terugkry, maar voordat sy dit heeltemal kon beheer, is dit weer van die pad en het omgeslaan.
Die departement sê in sy verweer hy was nie nalatig nie en dat Dreyer te vinnig gery het en nie vir die slaggate opgelet het nie.
Adv. Louis Pohl, in opdrag van Henry Buchner van Honey-prokureurs, het vir Dreyer opgetree. Adv. Allan Williams, in opdrag van die staatsprokureur, het vir die premier en LUR opgetree.