Instandhouding van brandstroke verpligtend
Henry Buchner
29 Mei 2015
Boere moet kennis neem van die belangrikste bepalings van die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande 101 van 1998 (bekend as die Brandwet).
Die doel van die Brandwet is om veld, bos- en bergbrande oor Suid-Afrika heen te voorkom en te bestry. Ingevolge die Brandwet kan grondeienaars ‘n vereniging, bekend as ‘n brandbeskermingsverening (BBV), vorm met die doel om veldbrande te voorspel, voorkom, bestuur en blus. ‘n BBV word by die minister geregistreer en moet onder meer na die volgende omsien:
• Die ontwikkeling van ‘n veldbrandbestuurstrategie vir sy gebied en toepassing daarvan.
• Organisering en opleiding van sy lede in die bestryding, bestuur en voorkoming van brande.
• Opleiding en steun aan die gemeenskappe in hul pogings om veldbrande te bestuur en beheer.
• Gereelde uitreiking van die brandgevaaraanslag aan sy lede.
Lidmaatskap aan die BBV is nie verpligtend vir ‘n boer nie, terwyl alle grondeienaars in ‘n gebied waarvoor ‘n BBV gevorm is, wel die reg het om hulle by die BBV aan te sluit mits hulle onderneem om by die grondwet en reëls te hou.
Dan rus ‘n plig op elke eienaar op wie se grond ‘n veldbrand kan ontstaan of van wie se grond ‘n veldbrand kan versprei, om ‘n brandstrook aan sy/haar kant van die grens tussen sy/haar grond en enige aangrensende grond te maak en in stand te hou. Die maak van brandstroke word slegs ‘n sekere tyd van die jaar toegelaat en geskied ordelik in ooreenstemming met die reëlings van die BVV en die vereistes van die Brandwet.
Vereistes van die Brandwet:
• Dit moet breed en lank genoeg wees om ‘n redelike kans te hê om te voorkom dat ‘n veldbrand na of van naburige grond versprei.
• Dit moenie gronderosie veroorsaak nie.
• Dit moet redelik vry van brandbare materiaal wees.
Boere voer dikwels aan brandstroke is ondoeltreffend in ‘n verwoestende veldbrand wat deur sterk wind aangedryf word. Veldbrande het al dikwels met gemak oor die N1 versprei waar dit uit dubbelbane vir verkeer in teenoorgestelde rigtings bestaan. Dit doen egter geen afbreuk aan die plig wat op grondeienaars rus om wel brandstroke aan te bring nie. Dit ly geen twyfel nie dat brandstroke wel ‘n belangrike rol het by die blus van brande, veral in die omgewing waar dit ontstaan en wanneer dit geblus word sodra die wind ligter begin waai.
Boere moet ook in gedagte hou dat elke grondeienaar op wie se grond ‘n veldbrand kan ontstaan of van wie se grond dit kan versprei, verplig is om oor die nodige toerusting, beskermende klere en opgeleide personeel vir die blus van brande te beskik.
Verder moet hulle verseker dat daar in hul afwesigheid verantwoordelike mense op of naby hul grond is om in die geval van ‘n brand te help met die blus daarvan.