Vrywaringsklousules en afstanddoeningskennisgewings kom deesdae algemeen in eenvoudige kontrakte voor soos byvoorbeeld die vorms wat onderteken word wanneer ‘n voertuig na ‘n handelaar geneem word om gediens te word, wanneer daar in ‘n hotel of by ‘n vakansie-oord oorgebly word, wanneer ‘n persoon van publieke vervoer gebruik maak of by ‘n hospitaal opgeneem word vir mediese behandeling insluitend chirurgiese prosedures. Dit is ook te wagte waar persone aan inherent gevaarlike aktiwiteite deelneem soos byvoorbeeld rekspring (bungee jumping) en perdry-aktiwiteite.
In sulke omstandige word daar gewoonlik verwag dat die persoon wat die aktiwiteit onderneem ‘n dokument onderteken uit hoofde waarvan die aanspreeklikheid van die diensverskaffer vir enige skade as gevolg van besering of dood wat voortspruit uit die aktiwiteit en veroorsaak word deur die nalatige optrede of andersins van die diensverskaffer en/of sy werknemers, uitgesluit word.
Die effek van so ‘n klousule is dat die partye kontrakteer dat die diensverskaffer nie aanspreeklik sal wees vir enige skade wat die ander party ly as gevolg van hulle of hulle werknemers se optrede nie selfs in gevalle waar daar nalatig opgetree word.
Die algemene beginsel in die Suid-Afrikaanse reg is dat sulke klousules afdwingbaar is op die basis dat dit in die openbare belang is dat regsbevoedge persone wat vryelik met mekaar kontrakteer, se kontrakte afdwingbaar is. Hierdie klousules word egter beperkend uitgelê en indien dit dubbelsinnig is, sal ‘n hof die interpretasie daaraan verleen wat meer voordelig vir die eiser/es is.
Daar kan verwag word dat die tipografiese uitleg van ‘n bladsy waarop so ‘n klousule verskyn, ‘n persoon se aandag daarop sal vestig deur die klousule op ‘n plek en op so ‘n wyse in die dokument te vervat dat dit duidelik sigbaar is soos om dit byvoorbeeld in ‘n groter lettertipe of in swart te druk. Dit is egter nie altyd die geval nie.
Dit is belangrik om in gedagte te hou dat waar ‘n persoon so ‘n ooreenkoms onderteken sonder om die inhoud daarvan te lees, hy of sy wel gebonde daaraan gehou kan word asof hy of sy bewus was van die inhoud en uitdruklik daartoe toegestem het.
Afstanddoeningskennisgewings is kennisgewings wat op strategiese plekke opgerig word om persone te waarsku dat hulle ‘n perseël waartoe die publiek toegang het, op eie risiko betree of dat ‘n voertuig op eie risiko geparkeer word of dat daar op eie risiko gebruik gemaak word van sekere geriewe soos byvoorbeeld by ‘n pretpark of openbare swembad. Vir sover die kennisgewings aangebring is op plekke waar die publiek dit maklik behoort te sien, kan dit ook, net soos vrywaringsklousules afgedwing word.
Waar ‘n party steun op uitsluiting van aanspreeklikheid op sterkte van ‘n vrywaringsklousule of afstanddoeningskennisgewing, sal ‘n hof elke geval op eie meriete beoordeel met inagneming van die spesifieke bewoording van so ‘n klousule of kennisgewing asook die spesifieke plek waar dit in ‘n kontrak voorkom of op ‘n perseël aangebring is. Alhoewel sulke klousules en kennisgewings in beginsel afdwingbaar is, is daar in die regspraak ‘n tendens te bespeur dat die afdwingbaarheid daarvan ietwat verslap sal word vir sover die beginsels van billikheid, geregtigheid en redelikheid dit vereis.
Deur Aneen de Wet (LL.B, LL.M)