Die beoogde wysigings aan die Wet op Drankprodukte, Wet 60 van 1989; welke egter nog nie gefinaliseer is nie; beoog om die drankbedryf, en welke tipe drank as drank onder die wet geklassifiseer word (en derhalwe aan welke vereistes dit moet voldoen om verkoop te mag word bv. tuisgebroude “bier” wat verkoop word as bier) en derhalwe verkoop mag word, te stabiliseer, en moet dus wyd verwelkom word, veral wat betref die rol wat dit kan speel om onwettige handel in drank te bekamp.
Die regering is van voorneme om daardeur minimum regulasies daar te stel vir die produksie, verpakking en verkoop van bier. Dit sluit tradisionele bier in, asook ander gefermenteerde drankies.
Die doel daarmee is om onder andere die voorkoms van kontaminerende stowwe soos batterysuur en gemetileerde spiritualieë in sommige tuisgebroude mengsels te verhoed. Die wetsontwerp bring derhalwe produkte soos bier en ander gebroude drankprodukte onder beheer van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye en bied ‘n raamwerk vir die bekendstelling van diè produkte in die Wet op Drankprodukte.
Volgens die konsepwetgewing gebruik sommige brouers ‘n skuiwergat of lacuna in die Drankwet wat dit moontlik maak dat enige produk wat as bier of “ale” ge-etiketteer en bemark word, vervaardig en verkoop kan word as sulks (sien hierbo supra). Die huidige wet fokus hoofsaaklik op drankprodukte wat uit druiwe vervaardig word, insluitend wyne en spiritualieë, maar ignoreer hoofsaaklik ander alkoholiese drankies soos tradisionele bier en “ale”.
Wat van kritieke belang is, is dat die voorgestelde wet beoog om te verseker dat diegene wat tuisgemaakte tradisionele bier brou, aan minimum vereistes voldoen wanneer die bier verkoop word. Dus sal voorheen onwettige produsente hiermee in die regulatoriese omgewing gebring word en onderhewig gestel word aan die nuwe regulatoriese raamwerk en bepalings.
Geskryf deur : J.C. Venter (LL.B)